Charles is die eienaar van Die Intensionele Christen Radiostasie en in die bediening vir bykans 30 jaar. Hy is getroud met Natasja en het 2 tienerseuns. Sy begeerte is om die Evangelie te verkondig en Christene toe te rus om hul plek vol te staan in die Koninkryk.
Dries van As was vir 43 jaar in die bediening en het in ses gemeentes oor die land bedien. Hy was vanaf 1996 tot 2021 die presiderende herder van A.G.S. Vaalpark. As leraar het hy ’n intense liefde vir die waarheid van die Woord. Hy het afgetree op 7 Oktober 2021, en geniet dit nou om, saam met sy vrou Margie, as gewone lidmate deel te wees hul gemeente.
Frikkie matrikuleer in 1989 aan die Hoërskool Waterkloof - Pretoria, en voltooi daarna 'n BA Graad in tale en verkry ook 'n Hoër Onderwys Diploma. Sy Zoeloe prakties doen hy by 'n Zoeloe skool in Kwazulu-Natal. Hy voltooi dan 'n Honneursgraad in Zoeloe - cum laude, en kan op daardie stadium al heelwat van Suid-Afrika se Nguni en Sotho tale praat. In 1996 skryf hy in vir teologiese studies en verkry in 1999 'n BA Graad daarin. Na sendingwerk met sy vrou Shakinah in die Krim Skiereiland - Oekraïne waar hy ook Russies en Oekraïnies aanleer, keer hulle terug na Suid-Afrika in 2003 vir hulle eerste dogter - Esther, se geboorte. Hy voltooi ook 'n Meestersgraad in teologie deur die Universiteit van die Vrystaat waarin hy fokus op Vraag en antwoord 80 van die Heidelbergse Kategismus oor die Rooms Katolieke mis. In 2014 verkry hy 'n Honneursgraad - cum laude, met fokus op die drie klassieke tale Hebreeus; Grieks; en Latyn. Hy dien van 2013 tot 2018 as prediker van die Woord in die twee Gereformeerde gemeentes van Amanzimtoti en Durban in KwaZulu-Natal. Frikkie is 'n poliglot of veeltalige wat meer as 10 tale kan praat. Hy word in 2019 uitgewys as een van die top vier skrywers vir die eksklusiewe Zoeloetaal koerant BAYEDE. Tans skep en bemark hy sy éíe taalkursusse aanlyn. Die Mulders het 4 dogters en een seun.
Ek is Hannes van As, senior Pastoor by A.G.S. Lewende Waters Vaalpark. Ek het 'n passie vir Jesus, Sy Woord, Sy Gees, Sy mense, en verlore siele wat Hom nog nie ken nie. Die vers waarop ek my lewe en bediening bou is Handelinge 20:24: "Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God."
Na 16 jaar in die sekulêre uitsaaiwese en die voltooiing van sy teologiese opleiding, betree Rudie op 1 April 1995 ‘n nuwe lewe en wêreld as Media Sendeling. Aktief vir Jesus Media Sending fokus aanvanklik net op die ontwikkeling van en toerusting vir nuwe Christelike Gemeenskap radiostasies en ander Christelike media inisiatiewe (ook in Swaziland/Eswatini), maar na 2000 verskuif die primêre fokus van die bediening na die ontwikkeling en vervaardiging en verspreiding van Christelike media inhoud. Sederdien het meer as 1500 radioprogramme al die lig gesien en word die huidige AGENDA-reeks tans weekliks deur meer as 30 plaaslike- en aanlyn radiostasies uitgesaai. Die bediening word slegs deur donasies gefinansier en alle media inhoud word gratis aan uitsaaiers en uitgewers gelewer.
Rudie is sedert 2003 ‘n lid van die Association of Christian Media (ACM) in Suidelike-Afrika en woon en werk in Krugersdorp aan die Wesrand van Gauteng. Hy ispassievol oor die uitdra van die Evangelie van verlossing in Jesus Christus en die Koninkryk van God, die verkondiging van die waarheid van die Woord, en die media as voertuig daarvan.